Press Release - 29 January 2009

Bykans 50% van huiskopers en -verkopers in die Wes-Kaap glo dat eiendomswaardes vanjaar met minstens 3% gaan daal, en een uit 15 is so mismoedig dat hulle dink die afplatting sal selfs 12% of meer wees.

Dit is ‘n paar van die bevindings van ‘n opname wat in Desember en Januarie onder meer as 1000 kliënte van die Chas Everitt International-franchises in die Wes-Kaap gedoen is.

Die informele opname het ook getoon dat sowat 28% van verbruikers dink dat eiendomswaardes vanjaar bestendig gaan bly en dat net minder as 25% glo dat pryse met 3% of meer gaan styg.

“Met ander woorde,” sê Berry Everitt, besturende direkteur van Chas Everitt International, “driekwart van respondente glo dat pryse vanjaar of gaan stagneer of gaan daal – en dit lyk dus asof vanjaar goeie koopgeleenthede in die Wes-Kaap gaan bied.”

Die bevindinge stem ooreen met die jongste bankstatistiek, met die jongste verslae van Absa, ENB en Standard wat almal daarop dui dat eiendomspryse in wesensterme (na inflasie) sedert die derde kwartaal van verlede jaar afwaarts gedraai het.

“En hoewel sentiment in die mark waarskynlik gaan verbeter na die verlagings in rentekoerse wat oor die volgende paar maande verwag word, voorsien ons nie dat pryse voor die tweede helfte van die jaar – op die vroegste – gaan begin styg nie aangesien daar steeds ‘n aansienlike oorvoorsiening van eiendomme te koop is en dit eers deur die mark geabsorbeer moet word,” sê Everitt.

“Die kredietknyptang wat dit vir voornemende kopers moeiliker maak om finansiering te bekom, gaan ook pryse onder druk hou en gaan die boodskap aan verkopers stuur om nie hoër verwagtinge te begin koester net omdat rentekoerse begin daal nie. Dit gaan tussen ses en nege maande neem vir sulke konsessies en ‘n verlaging in inflasie om deur die behuisingsmark te werk.”

Aan die ander kant, sê hy, moet kopers hulle bes doen om nou eiendom te bekom omdat “die mark nou sekerlik sy onderste draaipunt bereik het”. Kopers moenie transaksies uitstel in die hoop dat pryse veel verder gaan val nie, aangesien daar reeds beduidende toenames in verkoopsbedrywigheid gesien kan word.

“In eiendom moet ‘n mens oor die medium- en langtermyn dink en ons vertrou dat diegene wat nou koop oor drie tot vyf jaar die grooteste opbrengste gaan toon.


Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir nadere inligting:

Berry Everitt

011 801 2500 of besoek

www.chaseveritt.com

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net