Die Chas Everitt International-eiendomsgroep is besig om sy verteenwoordiging in Pretoria uit te brei met die oorskakeling van die gevestigde TiMProps-agentskap na sy handelsnaam.
Die agentskap, in gesamentlike besit van eiendomstaatmaker Christo Steyn en die aandeelhouers in die regsfirma Tim du Toit & Co Inc, gaan die Chas Everitt konsessie vir Pretoria-Oos bedryf. Die kantoor is in Lynnwood, in die hartjie van Pretoria se gesogte “ou Ooste’, wat voorstede soos Waterkloof, Groenkloof, Menlo Park en Brooklyn insluit.
Steyn sê egter dat die kantoor ook eiendomskopers en –verkopers in die groeiende voorstede van die “nuwe Ooste”, soos Faerie Glen, Equestria en Moreletta Park gaan bedien, en dat dit met die Chas Everitt Moot en Centurion-franchises gaan saamspan om verskeie ontwikkelings waarvoor die kantoor reeds mandate bekom het, maar wat in dié areas geleë is, te bemark.
TiMPops is in 1997 gestig en het aanvanklik gespesialiseer in die bemarking van eie ontwikkelings maar het in 2004 ‘n volwaardige eiendomsagentskap geword toe Steyn die bestuur van die maatskappy oorgeneem het na ‘n loopbaan van 22 jaar by Absa se verband- en sake-afdelings. Mede-direkteur Jan Swart het in dieselfde jaar by die groep aangesluit en as ‘n gekwalifiseerde rekenmeester ondersteun hy die span en kliënte in ‘n bestuursposisie.
En nou, sê Steyn, benodig die agentskap omvattende bemarkings- en netwerkbronne, wat deur die nasionale Chas Everitt-groep verskaf sal word. “Veral in die heersende moeilike mark het ons gevoel dit is noodsaaklik om ons agente na die beste van ons vermoë toe te rus om hulle so doeltreffend moontlik te maak – en as ‘n onafhanklike agentskap het ons leemtes in stelsels en bronne ervaar waarvoor daar nou onder die Chas Everitt-vaandel ruim voorsiening gemaak gaan word.
“Dit handel ook oor vertroue by ons kliënte. Verbruikers verkies ooglopend om sake te doen met ‘n maatskappy wat bande met ‘n groot en bekende handelsnaam het, eerder as met ‘n kleiner en minder bekende organisasie.”
Steyn sê voorts dat TiMProps en Chas Everitt se kultuur en waardes ooreenstem en Barry Davies, uitvoerende hoof van Chas Everitt se konsessie-afdeling, sê: “Pretoria-Oos was nog altyd ‘n sleutelmark vir die groep en ons is lank reeds op die uitkyk vir geskikte vennote. Christo en die TiMPops-span volg die gepasde verbruikers-etiek toe en is boonop daartoe verbind om hulle onderneming uit te brei. Ons is bevoorreg om hulle as deel van ons familie te verwelkom.”
Hy wys daarop dat die bemarkings- en netwerkbronne waartoe Chas Everitt-konsessiehouers toegang het die nuutste agenttegnologie, ‘n sterk bemarkingsprogram en ‘n naam vir uitstaande kliëntediens insluit.
Chas Everitt Pretoria-Oos is reeds in bedryf en kan by 012 269 9040 of 082 453 4304 geskakel word.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Chrsito Steyn
012-269-9040
Hoofagent Christo Steyn en takbestuurder Jan Swart voor die nuwe Chas Everitt International-franchise in Lynnwood, Pretoria-Oos
Distributed by/ versprei deu
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net