Press Release - 19 January 2009

‘n Kruietuin kan meer doen as net fleur aan jou tuin en smaak aan jou kookkuns gee – dit kan ook die waarde van jou eiendom verhoog.

Volgens Chas Everitt International se nuusbrief, Property Signposts, het navorsing getoon dat  netjiese tuine eiendomme se waarde met sowat 10% kan verhoog en dat ‘n kruietuin ‘n aanwins is in situasies waar ruimte beperk is, soos byvoorbeeld meenthuise se tuintjies.

‘n Vaal hoekie in ‘n groot tuin kan ook maklik omskep word in ‘n welriekende en kleurvolle kruiebedding en ‘n ander tendens wat al hoe gewilder word is om kruie tussen ander plante in blom- of groentebeddings te plant eerder as in ‘n aparte deel van die tuin.

Baie kruiesoorte, soos die salies, het aantreklike blomme en kruie met grys loof kan gebruik word om kleurkontras te skep. Nog ‘n bonus is dat sommige kruie peste en plae kan beperk terwyl dit voordelige insekte na jou tuin lok.

Dis maklik om kruie te kweek mits hulle in volle sonlig geplant word in grond wat vryelik dreineer. Die meeste kruie kan boonop in potte gekweek word en ‘n verskeidenheid sal kleur en geur aan ‘n sonnige stoep verleen en ‘n kok van vars kruie voorsien.

As jy kruie vir die kombuis wil kweek kan jy begin met basiese soorte waaruit die klassieke bouquet garni bestaan, naamlik pietersielie, tiemie en lourierblaar. ‘n Lourierboom aard goed in ‘n groot pot en kan gesnoei word om dit netjies en kompak te hou. Ander gunstelinge sluit in meerjarige kruie soos salie, oreganum, en roosmaryn, en jaarplante soos basillekruid, kappertjies en bronkors.

Gewilde kruie met hemelse geure sluit in pynappel-salie, sitroen-verbena en die kruisement-familie. Al dié kruie gee skop aan somerdrankies, terwyl laventel heel moontlik die meeste mense se grootste gunsteling is.

 

Uitgereik deur Chas Everitt International

Vir nadere inligting:
Berry Everitt

011 801 2500 of besoek

www.chaseveritt.com

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net