Suid-Afrika se waterbronne is beperk en huiseienaars behoort selfs in die reenseisoen maatreëls toepas om water te spaar.
En volgens Chas Everitt International se nuusbrief, Signposts, is dit maklik genoeg as ‘n mens net ‘n paar klein wysigings aanbring wat jou boonop geld aan waterrekenings gaan bespaar. Veranderings sluit in:
- Vervang die wassers van krane wat lek dadelik. ‘n Kraan wat teen ‘n koers van een druppel per sekonde lek sal elke jaar sowat 10 000 liter water vermors.
- Bring goedkoop belugters of vloeibeperkings aan badkamer- en kombuiskrane aan. ‘n Stortkop wat met ‘n vloeibeperker toegerus is sal slegs sowat sewe liter water per minuut gebruik in vergelyking met 20 liter per minuut vir outydse stortkoppe.
- Gebruik ‘n stophorlosie en probeer om binne vyf minute klaar te stort.
- As jou toilet nog ‘n groot outydse tenk het, plaas ‘n bottel vol water of ‘n baksteen daarin om die water wat met elke spoeling gebruik word, te beperk. Moderne toilette met plat waterbakke gebruik slegs drie tot ses liters per keer.
- Bespaar water in die kombuis deur drinkwater in die yskas te hou eerder as om die kraan oop te draai en te wag totdat koel water beskikbaar is. Ontdooi bevrore kos in die yskas of mikrogolf eerder as om dit onder lopende water te hou.
- Moenie handgewaste skottelgoed onder ‘n lopende kraan afspoel nie. As jy nie ‘n dubbelopwasbak het, gebruik ‘n skotteltjie water om skottelgoed af te spoel.
- Vermy die gebruik van afvalverwerkingseenhede wat baie water kan verbruik en probeer eerder om kompos van groenteskille en ander organiese afval te maak – dis baie meer omgewingsvriendelik. Was vrugte en groente in ‘n bakkie water eerder as onder ‘n lopende kraan.
- Wag totdat jy ‘n hele bondel wasgoed het voordat jy die wasmasjien gebruik. As jy net ‘n klein lading was, pas die watervlak ook aan.
- En as jy regtig ‘groen’ wil wees, skaf ‘n watertenk aan om reenwater op te vang en gebruik dit om jou wasgoed te was. Uitspoelwater uit jou wasmasjien kan gebruik word om tuinplante mee nat te maak.
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek