Huiseienaars en -verkopers sal tot Julie moet wag vir enige verbetering in die eiendomsmark.
Dit is die mening van Berry Everitt, besturende direkteur van die Chas Everitt International-eiendomsgroep. Hy sê dat hoewel die volgende ses maande geleenthede vir dapper beleggers gaan skep en minstens nog ‘n daling in die rentekoerse gaan bring, “dink ek nie dat die algemene vertroue wat noodsaaklik vir ‘n opswaai in die mark is voor die tweede helfte van die jaar gaan realiseer nie”.
Hy wys daarop dat hoewel brandstofpryse, inflasie en rentekoerse reeds aan die daal is, dit ses tot nege maande neem voordat verbruikers die uitwerking daarvan in hulle beursies voel en voordat huishoudelike begrotings dié verligting weerspieël.
Terselfdertyd is dit onwaarskynlik dat die nasionale Begroting wat jaarliks in Februarie bekend gemaak word enige verligting in persoonlike belasting teweeg gaan bring, terwyl die nasionale verkiesing in April/Mei na verwagting met groot drama op die politieke terrein gepaard sal gaan.
“Boonop gaan die banke waarskynlik steeds streng kredietmaatreëls toepas en deposito’s van 25 tot 30 persent vereis, wat dit vir voornemende huiskopers baie moeilik gaan maak om lenings te bekom, en dit gaan die mark onderdruk.”
Maar, sê hy, die prentjie behoort na Junie te verander. “Hopelik sal die uitwerking van die wêreldwye kredietkrisis iets van die verlede wees en tekens van ‘n ommeswaai in die wêreld se grootste ekonomieë waarneembaar wees. SA behoort ook weer hoër ekonomiese groei te toon met ‘n meegaande styging in indiensneming, wat gewoonlik die grootste aansporing vir verbruikersvertroue is.
“Voeg daarby die stygende opwinding oor die naderende 2010 Sokkerwêreldbeker en ons behoort ‘n bestendige styging in eiendomsverkope en eiendomspryse te begin sien.”
Uitgereik deur Chas Everitt International
Vir nadere inligting:
Berry Everitt
011 801 2500 of besoek
Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net