Press Release - 04 February 2009

Die Chas Everitt International-franchise in Middelburg het pas ‘n rekordmaand beleef, hoofsaaklik te danke aan groter vraag onder kopers van die naburige Mhluzi-township.

Hoofagent Susan Muller sê kopers van Mhluzi wat wil opgradeer, koop huise teen pryse van tussen R400 000 en R500 000 in dié Mpumalanga dorp. Terselfdertyd maak die sogenaamde swart diamante ook ‘n verskyning – talle huur aanvanklik verblyf voordat hulle eiendom in die prysklas van tussen R800 000 en R1,1m koop.

“Kopers trek voordeel uit die laer pryse wat verkopers nou vra,” sê sy. “Sommige verkopers het inderdaad hulle pryse met tot soveel as R250 000 verminder.”

Gevolglik is opknapping van eiendom nou ‘n gewilde opsie. Verskeie kopers koop eiendom in die ouer dele van die dorp, knap dit op, en verkoop weer teen ‘n wins. Hulle koop dan beter eiendom met die opbrengs en begin die proses weer van vooraf.

Die huurmark is ook op die oomblik baie lewendig, sê Muller. Dié mark word gestut deur die talle kontrakwerkers wat gereeld na die dorp stroom danksy werksgeleenthede by die steenkoolmyne, staalfabriek en kragstasie.

Baie voornemende huurders sukkel inderdaad om huurverblyf te bekom, sê sy. Meenthuise met twee slaapkamers word teen gemiddeld R4 500 per maand verhuur terwyl ‘n luukse losstaande huis in die dorp vir soveel as R8 000 per maand verhuur kan word.

Verbasend genoeg is die koop-om-te-verhuur mark nog stil en deeltiteleiendom verkoop redelik traag.

Daar is ook donker wolke op die horison weens dalende staalpryse. Die plaaslike staalfabriek het tydens die afgelope Kerstyd vir die eerste keer ooit drie weke lank gesluit. Sou dié ekonomiese toestande voortduur, kan die dorp se eiendomsmark vanjaar negatief beïnvloed word, sê Muller.

 

UITGEREIK DEUR CHAS EVERITT

VIR NADERE INLIGTING:

SUSAN MULLER

013 282 5938 OF BESOEK

www.everitt.co.za

 

Distributed by/ versprei deur
The Mega/ Press Network
Pse direct any enquiries to
012-333-6644,
073-946-9649 or
megw@telkomsa.net